Gepubliseer in Joernaal

Taalleer Woordbou

(Geskik vir gr. 9 – 12)

Raaisel

Hier is ‘n lekker uitdaging. Vorm soveel woorde as wat jy kan met die volgende letters:

b,l,k,k,s,t,e,i,o,u

Jy mag elke letter net een keer in ‘n woord gebruik. Behalwe natuurlik k wat in die lys herhaal word .

Skryf by die woorde wat hulle daartoe leen watter metode van woordvorming jy gebruik het: klinkerwisseling/afleiding/ samestelling/samestellende afleiding

Voorbeeld: kouse – afleiding

(Die letters in my lys kan ook geruil word met ander om ‘n nuwe raaisel te vorm

Gepubliseer in Afrikaans Hulp

Prosa Vertellersperspektief

Geskik vir gr.10 – 12

Onthou dat ons in poësie die term “spreker” gebruik en in prosa “verteller”.

Vertellersperspektief dui bloot op die hoek waaruit die verhaal vertel word. Dit beteken die verteller vertel die verhaal uit sy eie ervaring (soos die ek-verteller of eerste persoonsverteller) of uit die hoek van ‘n videokamera wat oral is en alles sien en hoor (die alomteenwoordige verteller).

Die voordeel van ‘n eerstepersoonsverteller is dat lesers so ‘n verteller as geloofwaardig sien. So ‘n verhaal kan moontlik ‘n ware verhaal wees – iets waarna lesers altyd opsoek is. Lesers kan egter hierdie vertelling as eensydig of subjektief sien. By die ek-verteller word baie keer slegs die verteller se gedagtes, gevoelens en innerlike konflik beskryf. Vir ‘n beginnerskrywer of leerder is hierdie tipe vertellersperspektief ideaal om mee te begin. Dit maak dit makliker om jou as skrywer in die situasie in te leef om sodoende beter te vertel.

Die skrywer kan ook van die alomteenwoordige verteller gebruik maak. Lesers voel hierdie verteller is meer objektief. So ‘n verteller se ander positiewe punt is dat hy vertel wat sy karakters dink en voel. Hy beskryf ook die innerlike konflik in karakters.

Lees die volgende verhaal en beantwoord die vrae:

Groei                                    

  1. Dit was in 2003 of 2004. Wat seker is, is dat ek en hy iets moes leer daardie jaar. Ons was deel van ‘n multikulturele skool. Ek was van Europese afkoms en hy ‘n kind van Afrika.
  2. Een oggend kom ek by die personeelkamer aan. In die groep waar ek sit, is die dames reeds vroegoggend moedeloos. Op – vir Dumisani. Brenda sê sy laat haar nie uit haar pensioen verneuk deur so ‘n ongeooflike, onhebbelike kind nie. Die hoof moet iets doen… Ek sug dankbaar dat die kind my nie vandag tot onwettige handel en wandel sal dryf nie.
  3. Die hoof kom in en open. Daarna volg die negatiewe motivering: die onderwysers is altyd laat, doen nie hulle werk nie, moet altyd gelawe word met koffie en nog koffie, blaas die skool se begroting daarop en dryf sy skool ten gronde. Ons gun hom die mondspoel. Tog voel ek hy weet nie meer hoe dors word ‘n onderwyser  nie. Totaal uit voeling met die beroep.  Nadat hy uitgestap het, gaan blaas ons die begroting op nog koffie.
  4. Eerste periode pas ek ‘n siek juffrou se klas op in die saal. (Ja, hoërskool onderwysers word nogal baie siek. Konk maar in van altyd jouself handhaaf…) Die oppas is nodig. As ‘n tiener die drang kry om aan die verhooggordyne te hang, ’n gat in ‘n gordyn te brand, of net rustig kaal oor die verhoog te stap, moet ‘n onderwyser vir hom sê dit is nou hoe ‘n verkeerde keuse lyk. Hulle begeerte om mekaar te laat lag, oorheers alle opvoeding!
  5. Ek sit dus nou maar en oplet na die jeug en hulle keuses. Afrika-tale dreun rustig in in my ore. Almal gesels net. Niemand het vandag die begeerte om die nar van die dag te wees nie. Maar ek sit ewe oplettend daar. Mens weet nooit. Nie lank nie of die vele vraestelle wat opgestel moet word, begin my teister. Die oplettendheid wyk…
  6. Skielik staan Dumisani voor my. Vol selfvertroue. Breë glimlag. Groot sterk seun. Rugby-speler? Die man het ‘n gesonde selfbeeld! Hy wil weet of ek hom ken. Ek skud my kop, nog nooit van hom gehoor nie. Ek weet nie hoekom ek dit sê nie. Is die woorde my in die mond gelê? Sy oë is vol twyfel. Ek het bietjie van die selfbeeld se eerste lagie afgeskraap. Hy het regtig gedink sy reputasie strek darem tot by my. Ek dink selfs baie diep terug… nee, jammer, dit lui nie ‘n klokkie nie. Maar hy kan gerus langs my sit en my bietjie van homself vertel. (Dit kan dalk heel openbarend wees hoe hy so berug geword het.)
  7. Hy sit. Vertel opgewonde hy kry van môre af by my klas. Afrikaans Eerste Addisionele Taal. Graad 11. Skuif uit Letitia se klas na my toe. Ek wil weet waarom skuif hy na my toe. Nee, hy wil ‘n nuwe blaadjie omslaan. Ek vra nie uit oor dié insig nie. Ook nie of hy dalk wil herbesin nie. Al wat in my kop storm, is dat ek nou met hom gaan sit. Maar ek bly ordentlik. Ek sê solank dat hy welkom in my klas is. Hoop hy vind dit leersaam. Speel hy rugby? Weer is iets my in die mond gelê, want toe kuier ons lekker! Hy is baie aangenaam, gesellig en opgevoed. Ken sy rugby. Ook baie lief daarvoor. Speel provinsiaal.
  8. Die volgende dag meld hy aan. Staan plegtig voor in die klas. Ek heet hom hartlik welkom. Van die dogters frons. Skud hulle koppe. Kan ek nie sien hier kom probleme nie? Hoe kan ek dit toelaat? Sommige seuns staar net voor hulle uit. Sy maats is verheug. Fluit, roep hom om by hulle te kom sit. Uiteindelik kan die pret in hierdie klas begin.
  9. Ek sit ‘n reguit gesig op. Hy of sy maats sal nie oor my vooroordeel kan kla nie. Die man sal ‘n regverdige kans by my kry! Van die dogters kyk my pleitend aan. Stuur hom terug! Ek doen dit nie. Want die besluit lê nie by my nie. (Hulle dink nog ‘n onnie is baas van haar eie klas!) Ek wys niks. Weet net wat almal weet: die vrede het hierdie klassie verlaat…
  10. Toe ‘n maand verby is, het hy my nog geen rede gegee om te gaan jeremia by my vriende in die personeelkamer nie. Ek weet nie of hy van die inspanning van al die pretensie absoluut emosioneel uitgeput is nie, maar hy is doodstil. Niemand wil dit glo nie, maar hy werk, luister na lesse, leer en slaag toetse. Hou die narre om hom redelik onder beheer. As hy werk, werk hulle ook. Party mense is net gebore leiers! Soms as hy te lekker lag vir die narre sal ek op-kyk om te sien wat aangaan. Hy sal in my oë kyk, skaam glimlag en verder werk. Ek verwon-der my, maar hy hoef dit nie te weet nie.
  11. Eendag kry ons vroegoggend die nuus dat een van ons dogters oorlede is in ‘n taxi-ongeluk. Esmerelda. So ‘n mooi naam. So ‘n onnodige dood. Die arme ouers! Vrae skree deur my. Antwoorde klink nie op nie. ‘n Benoudheid oor my onervarendheid van sulke situasies bring net nog vrae.Wat sê ek vir die kinders? Móét ek vir die klasse vol kinders iets sê? Dalk. Ek is tog die volwassene hier. Moet hulle help verstaan. Maar, van die dood weet ek net een ding: ek vrees dit met al my instinkte. Hoe kan so iemand kinders troos?
  12. Waar jy kom, huil kinders. Kinders huil in my arms, huil in mekaar se arms. Ander is net stil. Praat nie, huil nie. Party gaan huis toe. As jy so ‘n dag beleef voel jy net ontsag  – vir die dood, vir kinders se smart en vir die God van lewe en dood. Jou trooswoorde is’n nuttelose gebrabbel. Jy weet om stil te bly is beter, maar jy brabbel, want daar is soveel seer…
  13. Met elke nuwe klas wat inkom herhaal die toneel. Skok en ontnugtering  neem ons dag oor. Wat ons beplan het, word onbenullig in terme van die ewigheid. Toe Dumisani se klas inkom, dink ek skielik dat werk vandag nie eers ‘n opsie is nie. Hoe dink jy aan werk op so ‘n dag? Hoe konsentreer jy hoegenaamd? Die dood van Esmerelda is oral: dit hang in die klas, sluip op die stoepe en roep van die dakke af. Dit galm in jou siel. Dwing ontsag af. Jou nietigheid word vir jou glashelder. En jy bid dat jou geliefdes tog net gespaar bly. Dit word die dood en jy. Jou oervrees daarvoor verteer jou. Gaan die lewe ooit weer soos gister lyk? Sal ons ooit weer anders voel?
  14. Ek sien nie vir Dumisani nie. Niemand weet waar hy is nie. Ek gaan loer by die deur uit. Hy buig effens oor die stoepreling. Kyk na die duiwe op die saal se dak. Hy weet nie dat ek lank vir hom staan en kyk nie. Moedig stap ek nader. Ek gaan staan langs hom. Kyk ook vir die duiwe. Vra of hy ok is. Hy skud sy kop in ‘n ok. Die woorde wat dit moet sê, wil nie hardop lieg nie. Sy seer skok maak ons stil. Ek staan net langs hom. Hy bekommer my. Hy het nie voorgekom as iemand wat so seer kan kry nie. Maar seer praat met elke mens op ‘n individuele manier…
  15. Ek nooi hom om op die trap na die tweede vloer te sit. Weg van sy machomaats. Ons sit daar. Kyk vir die sementtrappe. Kyk nie meer op nie. Staar net in op die skok van haar dood. Die onwerklikheid, die ewige skeiding.
  16. Ek probeer desperaat onthou hoe sy gelyk het. Die skok het haar laat verdamp. In my bly haar beeld ‘n frustrerende vaagheid. Hoe is dit moontlik dat ek nie kan onthou  hoe sy lyk nie?
  17. Die eerste druppel land sag op die sement. Nee! ‘n Nog groter stilte kom lê in my. Hiervoor is ek nie gereed nie. My lewe lank vrees ek ‘n man se trane. Vrees om te kenne te gee dat ek dit wel waarneem. Vrees dat ek daarop moet reageer.
  18. Nog druppels. Nog en nog. Geluidloos. Asof hy nie daar is nie. Ek staar. Gee my oor aan die ontsag vir ‘n mens se diep seer. Dit kalmeer die drang om te troos. Onverklaarbaar wil ek hê hy moet huil. Die skok net bietjie uitspoel hier op die sement. Sy skouers ruk nie. Ook nie sy lyf nie. Dis net ‘n smart wat swaar en stadig druppel vir druppel op die trappe val. En val. Dan kom die stilte waarin woorde onwelkom is.
  19. Skielik staan hy op. Hy wil huis toe gaan. Wil gaan toestemming vra. Hy stap oud na die kantoor. Ek bly sit en oordink sy seer, sy trane en die eer dat ek vertrou is om daarin te deel.
  20. Esmerelda is nie verniet dood nie!

Vrae:

  1. Lees par. 3. Hoe voel die ek-verteller oor die hoof se toespraak? Noem drie sake.
  2. Lees par. 6 en 7. Hoe sou ‘n alomteenwoordige verteller hierdie twee paragrawe hanteer het? Sou die leser die situasie dan meer geniet het? Motiveer jou antwoord.
  3. Is die gebruik van die ek-verteller in par.12 en 13 geslaagd? Motiveer.
  4. Skryf paragraaf 14 in die alomteenwoordige vertellersperspektief.
  5. Vergelyk nou die twee paragrawe aan die hand van die volgende aspekte:
    1. Watter paragraaf beskryf Dumisani se gedagtes en emosies?
    1. Watter een van die paragrawe beeld Dumisani se innerlike konflik die beste uit?
    1. Verduidelik met goeie motivering watter verteller jy, as leser, in die konteks van paragraaf 14 verkies.  

Memorandum

  1. Die ek-verteller voel die hoof is negatief teenoor die onderwysers, uit voeling met die beroep en weet nie meer hoe dors onderwysers word nie. Sy voel opstandig teenoor hom, daarom gaan drink sy nog koffie.
  2. Die alomteenwoordige verteller kon vir ons Dumisani se gedagtes en motivering beskryf het. Dit sou interessant gewees het om te weet hoekom hy met die juffrou gaan praat het.

Die alomteenwoordige verteller kon beskryf het hoe Dumisani voel omdat hierdie juffrou nie eers van hom weet nie. Sy verbasing kon baie komies beskryf gewees het. Of dit kon dalk vir hom baie inspirerend gewees het dat sy reputasie nie so sleg is nie en dat hy dit tog weer kan opbou!

Dit sou ook interessant gewees het om te weet waarom Dumisani heel aangenaam teenoor die juffrou optree en lekker met haar kuier.

3. Ja. Dit is goeie beskrywings van hoe die volwassene wat die kinders moet help dit ervaar. Dit is baie gepas in die konteks van die verhaal.

4. Hy buig effens oor die stoepreling. Kyk na die duiwe op die saal se dak. Sy stap moedig nader. Gaan staan langs hom. Kyk ook vir die duiwe. Vra of hy ok is.

Hy skud sy kop in ‘n ok. Die woorde wat dit moet sê, wil hy nie hardop lieg nie. Hy weet dat hy nooit weer ok sal wees nie. Tog wil hy dit nie met hierdie vrou bespreek nie. Hierdie seer, hierdie verlies is syne. Esmerelda was syne. Sy meisie. Dit is nie ‘n hartseer om te verkondig nie. Nee.

 5.1 Die paragraaf met die alomteenwoordige vertellersperspektief.

 5.2 Die paragraaf met die alomteenwoordige vertellersperspektief.

5.3 Eie antwoord. Moontlik: Die alomteenwoordige verteller gee ‘n meer volledige beeld van die karakter van Dumisani. Die beskrywing van sy hartseer, sy gedagtes en sy innerlike konflik (om die juffrou te vertel of hy ok is of nie) help die leser om die karakter beter te verstaan.

Gepubliseer in Afrikaans Hulp,Aktiwiteite

In die winter roep die lente – digkuns

In die winter roep die lente

1.Die winter klamp sy koue kloue

2. en sleep ons hakskeenspore

3. deur dik lae blare

4. deur nare hees winde

5. waarin onwillige bome

6. hulle koppe opstandig buig.

—-

7. Ons word neergesit

8. voor ‘n kaal boom

9. waaraan fyn, liggroen blare

10. en pienk bloeisels

11. ons moes verbly het.

—-

12. Tog: in seënbeelde van ‘n vorige lente

13. bloei die wete

14. dat dit wat winter was,

15. onherkenbaar sal toegroei

(San Dreyer)

Tema

Die natuur leer ons deur sy seisoene dat die slegte tye verby sal gaan. Die goeie tye, waarin ons die slegte tye sal vergeet, sal weer kom. Ook: die goeie oorwin altyd die slegte.


  Vrae by In die winter roep die lente

  1. A. Haal die woord in die titel, wat op beeldspraak dui, aan. B. Identifiseer die beeldspraak. C.Waarom kan gesê word dat die gebruik daarvan funksioneel is?
  2. Verduidelik die beeldspraak in r.1-3.
  3. Spreek jou uit oor die k-alliterasie in r.1-2.
  4. Stel r.4 in jou eie woorde.
  5. Wat is die ironie tussen r.5 en r.6?
  6. A. Is die leesteken in r.6 funksioneel? B. Motiveer jou antwoord.
  7. A. Dink jy die gebruik van die lydende vorm in r.7 is funksioneel? B. Motiveer jou antwoord.
  8. Beskryf die aansluiting tussen r.3 en r.8.
  9. Waarom is daar ‘n komma in r.9?
  10. Tipeer die stylfiguur wat gebruik word in r.8 –10.
  11.  R.12: A. Wat is die funksie van die voegwoord “tog” B. Stel r.12 in jou eie woorde.
  12. Waarom die dubbelpunt in r.12?
  13. “bloei r. 13:” beteken ook “ om te blom”. Verduidelik die metafoor in jou eie woorde.    
  14. A. Gee die letterlike betekenis van r.14-15. B. gee ook die implisiete  betekenis van r.14 -15. 
  15. Bespreek die woordkeuse van “onherkenbaar” r.15.
  16. A. Is die weglating van die punt in r.15 funksioneel? B. Motiveer jou antwoord.

Antwoorde by In die winter roep die lente

  1. A.  “roep”  B. Personifikasie     C. Dit is funksioneel, want dit hef die feit uit dat die lente of dan die goeie reeds in die winter skuil.
  2. A. Dit is ‘n metafoor.    B. Die metafoor stel die winter gelyk aan ‘n dier wat die hulpelose mens net deur die koue voortsleep.
  3. Dit is funksioneel omdat dit die magteloosheid van die mens teenoor die natuur, hier die winter, klankmatig uithef. (Die leser sien dus dat woord en klank saamwerk om ‘n boodskap oor te dra.)
  4. Die geluid van die wind is ‘n lae klank, wat ‘n onveilige gevoel meebring.
  5. Alhoewel die bome groot en sterk is en lyk of niks hulle kan versteur nie, is die onsigbare wind ironies sterker en waai hulle tot hulle buig onder sy krag.
  6. A. Ja.  B. Dit dui op ‘n afsluiting van ‘n gedagte – in hierdie geval die natuurrbeskrywing van die winter.
  7. A. Ja. B. Dit sluit aan by “sleep” en hef weereens die mens se magteloosheid teenoor die winter uit.
  8. Die aansluiting is in die rede vir die blaarlose boom in r.8. Dit is die winterwind wat die blare van bome afgewaai het dat dit in “dik lae” r.3 onder bome lê.
  9. Dit stop die vloei van die gedig op uit te hef dat die jong blaartjie nog klein en weerloos is.
  10. Ironie. Die spreker se verlange na die lente of dan die goeie en die mooi word hierdeur uitgehef.
  11. A. Dit lui ‘n wending in die gedig in. Die verdieping, die boodskap van die gedig word nou ingelei. B. Maar, in die mooi herinneringe van vorige lentes waarmee ek geseën is…
  12. Dit dui daarop dat ‘n belangrike saak, ‘n belangrike insig gaan volg naamlik dat herinneringe aan vorige lentes by haar bevestig dat die goeie telkens die slegte oorwin.
  13. Die positiewe besef van die spreker word gelykgestel aan ‘n oop, mooi blom.
  14.  A. Plante wat in die winter kaal stamme gehad het, sal in die lente toegroei met blare en blomme.   B. Die goeie sal die slegte in so ‘n mate oorwin dat ons van die slegte sal vergeet.
  15. Dit is ‘n effektiewe woordkeuse wat baie goed uithef dat die slegte ervarings in die lewe eenkant toe geskuif sal word en dat op die goeie gefokus sal word.
  16. Ja. Dit impliseer dat daar ‘n ewige siklus is waarin die goeie die slegte oorwin.
Gepubliseer in Afrikaans Hulp,Aktiwiteite

Wat Jy van Leesspoed Moet Weet

Leesspoed kan bepaal hoe ons studiemateriaal en vrae in toetse en vraestelle beantwoord. Party mense bring outomaties hulle leesspoed af of versnel dit na gelang van behoefte. Meeste mense hou net aan lees met ‘n spoed!

Kyk maar hoe verkeerd beantwoord volwassenes hulle e-posse. Mmmm, en hoe verkeerd beantwoord leerders hulle vraestelle!

As jy ‘n vraestel skryf, is jy minder rustig as gewoonlik. Eintlik voel jy gejaagd. Daarom jaaglees jy. En neem min in. Jy besef dat dit nie sal werk in gevallestudies in vraestelle nie? Jy moet dan analiseer en advies gee of bloot jou kennis betrek om die vrae te beantwoord. Dan het ons nog nie gevra wat van begripstoetse, prosa en digkuns nie?

As jy studeer, moet jy jou leesspoed afbring om te kan inneem, verstaan en te kan onthou. Want dit is hoe jou brein werk. En dit is hoe dit is…

Lees voort “Wat Jy van Leesspoed Moet Weet”