Gepubliseer in Begaafdheid,Onderprestasie

Die selfkonsep van begaafde seuns wat onderpresteer

Daar is navorsers wat van mening is dat daar nie iets soos ‘n begaafde onderpresteerder kan wees nie. Omdat die term begaafde juis gedefinieer word as iemand met (a) ‘n buitengewone potensiaal wat (b) daarvolgens presteer. Enige onderwyser sal met diegene wat so redeneer, ernstig verskil.

Ek was gereeld in my klaskamer gefrustreerd met die feit dat daar wel begaafde onderpresteerders was. Ek kon uit opstelle en mondelinge agterkom dat die leerders bogemiddelde potensiaal het, maar dikwels eers as ek onderwerpe gekies het wat hulle aandag getrek het. In my klaskamers was daar beslis meer begaafde seuns as meisies wat onderpresteerders was.

Miskien omdat meisies nie soos seuns deur die portuur gespot word as hulle presteer nie. In ons skoolkultuur word meisies deur die portuur as slim beskryf as hulle toppresteerders is. Seuns word egter as “nerds” beskryf. Daarom het ek die begaafde onderpresterende seun as tema vir my M.Ed gekies.

Baie van die begaafde seuns wat onderpresteer het, het heel gelukkig gelyk. Hulle is deur maats aanvaar, het saam rugby gespeel en doelbewus onderpresteer om aanvaar te word. Daarom wou ek weet of onderprestasie ‘n invloed op die selfkonsep – of idee wat die seuns oor hulself het – uitoefen.

Vir die doel van my M het ek op die junior sekondêre skoolfase gefokus, dus graad 7,8 en 9. Hierdie fase is gekies omdat begaafde onderpresteerders (a) gewoonlik teen die aanvang van hierdie fase onderpresteer en (b) die selfkonsep teen die ouderdom van 13 meetbaar is.

Ek het drie kriteria gebruik om begaafde onderpresteerders te identifiseer naamlik (a) ‘n gemiddelde IK van 130+, (b) ‘n beduidende onderprestasie (C-simbool) en (c) langdurige onderprestasie, dus langer as ‘n jaar omdat verskeie faktore kan veroorsaak dat die leerder onderpresteer.

Leerders met ‘n 130+ IK word as hoogsbegaafd beskou. Aangesien daar steeds nie ooreenstemming oor die afsnypunt vir begaafdheid is nie, wou ek seker maak dat die seuns deur alle navorsers as begaafd beskou sou word. Hierdie leerders is veronderstel om toppresteerders te wees (A-simbool), dus het ek ‘n C-simbool as beduidend onder potensiaal beskou.

Ek kon twee seuns in laerskole in Welkom identifiseer wat begaafde onderpresteerders was. En vier seuns in ‘n skool in Bloemfontein.

Die bevinding was dat een van die laerskoolseuns ‘n hoë selfkonsep gebou het, maar dat dit bevraagteken kon word omdat sy selfkritiek baie laag gemeet het. Die ander een se selfkonsep het baie laag gemeet, ‘n bevinding wat ook bevraagteken kon word omdat sy selfkritiek baie hoog gemeet het. Al vier hoërskoolleerders het medium selfkonsepte gebou, wat daarop kon dui dat begaafde onderpresteerders nie daarin slaag om hoë selfkonsepte te bou nie.

My navorsing het dus bevestig dat daar ‘n direkte verband tussen die selfkonsep en akademiese prestasie is. Daar kan nie afgelei word dat ‘n laer selfkonsep onderprestasie veroorsaak of dat onderprestasie tot die ontwikkeling van ‘n laer selfkonsep bydra nie. Hoofsaaklik omdat verskeie faktore tot onderprestasie en selfkonsepvorming bydra.

Maar, dit is sinvol om af te lei dat hierdie seuns na potensiaal kan presteer as hulle selfkonsepte ondersoek word om te verstaan hoe hulle begelei kan word om hoër selfkonsepte te bou. Twee van die seuns het vertel dat hulle doelbewus onderpresteer omdat hulle nie as “nerds” beskou wil word nie, sonder om te besef dat onderprestasie gaan veroorsaak dat hulle nie hulle drome om dokters en veeartse te word te verwesenlik nie.

Vir my is dit ‘n baie teer saak dat begaafde sportmanne in skole as helde vereer word. Op die verhoog geroep word, as voorbeelde voorgehou word. En sodoende onrealisties-hoë selfkonsepte bou. Dit terwyl baie van die eersterugbyspanseuns van die ongeskikste leerders in my klasse was. Seuns met lae selfkonsepte wat oor buitengewone intellektuele vermoëns beskik, verkies dan eerder om te onderpresteer om deur die portuur – wat dikwels as boelies beskou kan word – aanvaar te word.

Ek het in 1991-3 laas navorsing oor begaafde leerders gedoen. En wil nou weer daaraan aandag skenk omdat daar sedert die oorskakeling na inklussiewe onderwys bitter min navorsing oor begaafde leerders gedoen is.

Ek moet egter weet: Word die IK’s van leerders steeds gemeet?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Die selfkonsep van begaafde seuns wat onderpresteer

    1. En ouers is “skaam” oor hulle kinders presteer, eerder as om hulle te help om goeie selfkonsepte te bou. Mens moet skaam wees omdat jy beter as maats presteer, maar glad nie as jy in die eerste span speel nie – selfs al het jou pa se geld jou daar gekry …

      Like

      1. So verkeerd. Ej raam elke jaar n klomp skoolfoto’s in een raam: matriekklas, prefekte, skoolkoerantredaksie, al d sportspanne, die wat provinsiale kleure in sport gekry get, ens. Nie eers een foto van akademiese presteerders op enige gebied nie. Ek het daarna gevra, maar die onderwyser verantwoordelik het net skouers opgetrek en gesê dit pas nie.

        Liked by 1 person

  1. Ek raam elke jaar omtrent 14 foto’s in een raam vir n skool. Die personeel, matrekklas, prefekte, koerantredaksie, al die sportspanne en provinsiale kleure in sport.Nie eers 1 foto vir akademiese presteerders van enige aard nie. Toe ek daaroor vra, het die onderwyser verantwoordelik net skouers opgetrek. Dit pas nie by hierdie groep foto’ss nie, aldus hom. Maar daar is ook nerens enige ander foto’s oor aksdemiese prestasies nie!

    Liked by 1 person

  2. Ek weet nie in SA nie (van wat ek weet, was dit nie gedoen laas toe ek nog daar skool gehou het nie), maar hier in Engeland word IK nie getoets nie. Nie in skole nie. As jy dink jou kind is begaafd, sal jy dit privaat moet laat doen.

    Liked by 1 person

      1. Nikita, dit ontstel my. Dit maak glad nie saak dat atlete, rubyspelers en so meer getoets en hulle talente ontwikkel word nie. Maar dan word daar gediskrimineer as leerders se IK’S getoets word. Dit maak nie sin nie. Dit het my gehelp om leerders wat nie kan nie, nie te veel te druk nie. En onderpresteerders aan te moedig en te inspireer. Hoe voel jy daaroor?

        Liked by 1 person

      2. Ek weet nie regtig hoe ek daaroor voel nie – nie positief nie maar ook nie negatief nie. Ek het al in die verlede gedink dat as mense ‘n kind laat toets en jy weet die IK, dan kan jy baie keer dink dat die kind nie veel potentiaal het – as die IK nie gemiddeld is nie en dit kan die kind benadeel, daarom het ek gedink dis beter om nie te weet nie/ te toets nie – dan kan jy almal gelyk hanteer en dalk maar daardie kind dan beter vordering omdat daar van hom/haar net soveel verwag word as die top kind.

        Liked by 1 person

Laat 'n boodskap na Nikita Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.