Gepubliseer in Afrikaans Hulp,Aktiwiteite

Letterkunde: Geniet jou televisiestories en storieboeke nog meer

Geskik vir graad 10-12 leerders.

Verstaan wat die term tema beteken

Die tema is nie die les in die verhaal of drama nie.

Die tema van ‘n gedig, drama of verhaal is ‘n universele saak, probleem of vraag waaroor mense al lank wonder en nog lank sál wonder. Byvoorbeeld: Die mens glo meestal alles wat hy hoor, hoe liefde regtig lyk, jaloesie wat wil vernietig, die misbruik van mag en so kan ons aangaan.  

Hoe bepaal ek wat die tema of temas van ‘n verhaal is?

Die beste metode is om die konflik tussen die protagonis en antagonis te ondersoek. Vrae wat ons kan vra is:

  1. Waarom is hulle in konflik?
  2. Wat wil die een van die ander hê?
  3. Gee ‘n abstrakte selfstandige naamwoord vir die stryd. Byvoorbeeld: andersheid, hebsug, selfsug, wraak, versoening, omkopery, liefde, jaloesie, (tokiese ) verhoudings, vergifnis, die stryd tussen goed en kwaad en misbruik van mag. Voeg self nog by.
  4. Hoe die mens, of dan ons, so ‘n saak hanteer, word uitgebeeld in ‘n drama of verhaal.
  5. As ons nou ‘n tema wil formuleer, kan jy die volgende gebruik:

Die positiewe hantering van ____________ kan lei tot __________ .

Die negatiewe hantering van ____________ kan lei tot __________ .

Doen moeite om die tema te bepaal en jy geniet die letterkundige werk sommer baie meer. Dit is waar alles begin het. Dit is waarom die letterkundige werk geskryf is. So moet onderwysers ook ‘n inleidende gesprek hê oor ‘n gedig, drama of verhaal se tema.

Karakters word dan ook dikwels ingedeel in ‘n groep wat die positiewe kant van die tema belig. Direk teenoor hulle staan die groep wat die negatiewe kant van die tema belig. Tipies die stryd tussen goed en kwaad.

Die leier wat die positiewe kant van die tema uitbeeld is die protagonis en ook die hoofkarakter. Hy het newekarakters wat hom help in hierdie saak. Sou die protagonis en enige een in sy groep meer insig kry, meer wysheid kry of beter keuses as voorheen maak, sê ons hulle het as karakters gegroei. ‘n Skrywer kan ‘n hoofkarakter laat ontwikkel, dieselfde laat bly (stagneer) of laat sterf. Die leser vergewe nie maklik ‘n skrywer wat een van die laaste twee opsies kies nie!

Die ander hoofkarakter wat die negatiewe elemente  van die tema uitbeeld en soms selfs die vyand is, word die antagonis genoem. Hy het ook ‘n groep wat hom ondersteun.

Sou ‘n karakter in die antagonistiese groep die positiewe kant se saak insien en positief verander sê ons ook dat daar karakterontwikkeling plaasgevind het.

Oefening:

1. Identifiseer die protagonis in julle voorgeskrewe werk.

2. Wie help die protagonis om die tema te belig?

3. Identifiseer die antagonis en gee ook die name van die res van sy groep.

4. Verduidelik die innerlike konflik in die protagonis.

5. Hoe dra die antagonis by tot die protagonis se keuses, besluite, handeling en dialoog?

6. Probeer om die tema te formuleer:

    Die positiewe/negatiewe hantering van _________ kan lei tot ________ .

7. Beskryf hoe jy ,as leser, tydens die lees van die verhaal, gegroei het ten opsigte van die tema.

    Byvoorbeeld: Ek ,as leser, het besef dat andersheid deur ons aanvaar moet word. Niemand kon kies wie sy ouers is, hoe talentvol hy is en hoe hy lyk nie.

Skrywer:

Ek is 'n afgetrede Afrikaans Huistaal onderwyseres. Ek het 20 jaar vir seniors Afrikaans onderrig - 10 jaar in EA en 10 jaar in HT. Ek het twee begaafde kinders van my eie, daarom die passie vir die onderrig van begaafde kinders. Die belangrikste aspek rondom die begaafde kind is dat dit nie die ouer of onderwyser moet intimideer nie. As u dink dat u nie bevoeg is om so 'n kind te help nie, is u totaal verkeerd. Hulle het ons leiding nodig om te vlieg. Hulle vlieg net vinniger as ander! Geniet dit om te sien hoe vinnig die proses is. Ons sukkel genoeg met ander wat nie eers belangstel om te probeer nie!

4 gedagtes oor “Letterkunde: Geniet jou televisiestories en storieboeke nog meer

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.