Gepubliseer in Afrikaans Hulp

Poësie: Groei

In hierdie artikel bied San Dreyer een van haar eie gedigte aan, met vrae en antwoorde. Onderwysers kan dit benut, maar begaafde leerders kan dit ook gebruik om vir eksamens voor te berei. ‘n Bonus is dat jy direk met die digter kan kommunikeer as jy kommentaar hierop lewer.

Groei (Deur: San Dreyer)
Moet jou nie aan die afgode
van jou vrees en seer bind
nie aan die pyn van verwerping
ook nie aan jou ontnugterings nie, my kind.
 
Los dit wat jou blind laat maal
agter jou pyn aan.
 
Weet dat daar soms
‘n winter kom
wat met kil kloue
 die lewe om ons
 in ons stroop!
 
 Maar, soek in die ontnugtering
 in daardie pyn en lyding –
         sóék die wysheid daarin te vind
         vind só jou groei, my kind.

Hierdie gedig kan as blote oefening, klaswerk of eksamenvraag gebruik word.

Fokus op die bewoording van vrae en interpretasie daarvan. Dit is hoe bewoording van vrae in die gr.12 eindeksamen sal lyk.

Laat leerders altyd eers kernwoorde in vrae onderstreep en seker maak hulle weet wat bedoel word met die vraag.

Tema:

Die spreker moedig sy kind/die leser aan om nie vir ewig te rou oor die ontnugtering en pyn wat die lewe bring nie, maar geestelike groei en wysheid daaruit te bekom.

Die wyshede/lewenslesse in elke strofe:

Strofe 1: Moenie dat slegte emosies jou gedagtes en lewe oorneem nie.

Strofe 2: Die aangesprokene, ook die leser, moet dit wat sy denke oorneem (blind maak)

               laat gaan/dit probeer verwerk.

Strofe 3: Die wysheid hier is dat die mens moet weet dat slegte tye deel van die lewe is.

               Niemand spring dit vry nie.

Strofe 4: Die aangesprokene/leser moet in sy seer intens soek na watter wysheid hy

               daaruit kan leer.

Vrae by Groei

  1. Die titel bestaan uit net een woord. A. Kan die leser verwag dat die gedig net op letterlike betekenisvlak gaan wees? B. Verduidelik wat jy bedoel.
  2. Wie is die spreker en aangesprokene?
  3. A. Dui die beeldspraak in r.1 aan. B. Verduidelik die beeldspraak deur na r.1 – r.4 te verwys.
  4. Waarom kan ons sê die ee-assonansie is suksesvol aangewend?
  5. A. Noem die vier afgode waarna die spreker verwys. B. Gee een woord vir hierdie vier terme.
  6. Gee die funksionaliteit van die punt in r.4.
  7. Verduidelik waarom die tipografie van r.5 – 6 sinvol is.
  8.  Laat jou uit oor die gebruik van die woord “soms” r.7.
  9. Waarna verwys r.8-9?
  10. Benoem die beeldspraak in r.9 en dui dit aan. Haal aan en onderstreep!
  11. Stel r.10-11 in jou eie woorde.
  12. Sou jy sê die uitroepteken in r.11 voeg waarde toe tot die gedig?
  13. Beoordeel die gebruik van”Maar” r.12.
  14. Die y-assonansie is treffend gebruik. A. Stem jy saam”? B. Motiveer.
  15. A. Benoem die leesteken in r. 13. B. Dui die funkise ook aan.
  16. Benoem die stylfiguur in r.14 deur na r.12 te verwys.
  17. Benoem die skryfteken in r.14 en 15. Is die gebruik daarvan geslaagd?
  18. Hoe word die toepassing/verdieping/boodskap uitgehef? Noem 5.
  19. Hoe sluit r.12 – 15 aan by die titel?

Antwoorde by Groei

  1. Nee. Sou dit saam met ander woorde gestaan het sou dit die betekenismoontlikede beperk het, maar die enkele woord dui op die moontlikheid van figuurlike interpretasie wat kan volg.
  2. Die spreker is ‘n ouer of leermeester. Die aangesprokene is die ouer se kind of ander ouers se kinders.
  3. A. “afgode”. B. Die tyd en energie wat dit neem om voortdurend met seer, vrees, verwerping en ontnugtering in jou denke  te wortsel, word gelyk gestel aan die tydrowende rituele van afgodsdiens. Dit neem alles oor en die mens word perspektiefloos.
  4. -ee- is ‘n vokaal wat weemoed en hartseer uithef. Dus word “vrees” en ‘seer” op hierdie wyse klankmatig uitgehef.
  5. A. vrees, seer, pyn van verwerping en ontnugterting. B. Emosies
  6. Die eerste wysheid wat die spreker oordra (moenie dat hierdie emosies jou oorneem nie) is afgehandel. ‘n Nuwe tema gaan volg.
  7. Die tweede wysheid van die spreker word alleen geplaas. Dit hef uit dat die aangesprokene, dit wat sy denke oorneem  (blind maak) moet los/laat gaan/dit verwerk.
  8. Die spreker gebruik “soms” om uit te hef dat dit nie net  altyd sleg gaan nie.
  9. Seertye of swaar tye.
  10. Personifikasie – “kloue”.
  11. Moeilike dinge wat om ons gebeur wat ons baie ongelukkig maak.
  12. Ja. Dit hef uit hoe swaar die lewe soms kan wees.
  13. “Maar” lei wending en kontras in. Dit lei ook dikwels die boodskap in. Die leser verwag nou een van die eersgenoemdes.
  14. Ja. Die -y- of -ei- beeld ook pyn en lyding klankmatig uit. Hef dit dan ook so uit.
  15. A. aandagstreep. B. Dit hef die finale boodskap van die gedig uit.
  16. Herhaling.
  17. A. akuut. B. Ja. Dit hef uit dat die aangesprokene/leser in sy seer intens moet soek na watter wysheid hy daaruit kan leer. Die beklemtoning van “só” verwys na “die soeke na wysheid” as ‘n wyse om groei te bewerkstellig.
  18. Paarrym, tipografiese inkeping, aandagstreep, einde van strofe, einde van die gedig, die gebruik van die punt wat die vierde lewensles/wysheid afsluit.
  19. Die laaste strofe gee die raad dat die mens/leser moet probeer om in lyding geestelik te groei. Die leser weet nou na watter tipe groei die titel verwys.

Gebruik gerus die bogenoemde na hartelus. Al wat die digter en opsteller vra is:

  1. Gee erkenning aan die digter se talent. Gebruik dus my naam by die gedig.
  2. Lewer kommentaar. Soos elke kind, het hierdie kind ook positiewe terugvoer nodig.

Lekker werk!

Skrywer:

Ek is 'n 63-jarige afgetrede Afrikaans Huistaal onderwyseres,wat op 60 afgetree het. Ek het 20 jaar vir seniors Afrikaans onderrig - 10 jaar in EA en 10 jaar in HT. Ek het twee begaafde kinders van my eie, daarom die passie vir die onderrig van begaafde kinders. Die belangrikste aspek rondom die begaafde kind is dat dit nie die ouer of onderwyser moet intimideer nie. As u dink dat u nie bevoeg is om so 'n kind te help nie, is u totaal verkeerd. Hulle het ons leiding nodig om te vlieg. Hulle vlieg net vinniger as ander! Geniet dit om te sien hoe vinnig die proses is. Ons sukkel genoeg met ander wat nie eers belangstel om te probeer nie!

5 gedagtes oor “Poësie: Groei

  1. San, dit is so perfek. Baie dankie hiervoor, ek gaan kyuk hoe ek begaafdekind kan bemark dat onderwysers hierby uitkom – en natuurlik begaafde kinders. Om self te oefen. Ek dink jy moet die titel verander na Groei – deur San Dreyer. En in die eerste paragraaf verduidelik dat dit vir ‘n ongesiene gedig gebruik kan word. Dankie hiervoor, ek sien uit na ons samewerking.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.