Gepubliseer in Afrikaans Hulp

Die beskrywende opstel – Deel IV

Deel 4 van raad oor die beskrywende opstel.

Finale wenke oor hierdie tipe opstel vir gr.10 -12

Pas tog op vir pap eindes!

  1. Dit is beslis erger as ‘n pap wiel! Jou lesers gaan voel jy het absoluut hulle tyd gemors. ‘n Paar gaan in die yskas krap vir vrot tamaties…

2. As ‘n mens vir ‘n skryfstuk beplan, is die einde die belangrikste element waarvoor jy beplan.

Dit is die maak of breek van ‘n verhaal, ‘n gedig enige skryfstuk.

3. Onthou jy daardie televisiereeks met die pap einde? Jy was nog so spyt jy het dit ooit begin kyk!

Mmm… moenie jou opstel verwoes met ‘n pap einde nie.

Besluit wat die leser moet besef. Hou dit in gedagte terwyl jy beplan, skryf en redigeer.

4. As jy tydens jou beplanning en skrywe fokus op wat die leser uiteindelik moet besef, word

eenheid bewerkstellig.

Die titel

  1. Die titel is baie, baie belangrik. Meestal word titels gegee, maar by die fotoprikkels vir opstelle is dit baie belangrik om ‘n goeie titel te kies.
  2. Dit is makliker om die skryftuk af te handel tot in die finale fase en dan ‘n titel te kies.
  3. ‘n Titel wat uit net een woord bestaan kan baie treffend wees. Kies net ‘n baie interessante woord wat saamvat waaroor die opstel regtig handel. Jy kan kies uit woorde in die slot wat dui op wat jy voel of besef. Die opskrif sal dan ‘n goeie eenheid in jou skryfwerk bewerkstellig.
  4. Jou titel kan langer wees, maar steeds beveel ek aan waarna ek in nommer 3. verwys. Eenheid is baie belangrik in enige skryfstuk.
  5. Met ‘n langer titel kan jy lekker speel met alliterasie, assonansie of ‘n idioom bietjie wysig om by jou tema te pas. Kontras werk ook goed!

Wat is eenheid in ‘n skryfstuk?

Die skrywer kies ‘n tema en skryf oor die verskillende elemente in so ‘n tema.

As jy oor ‘n toneel of ervaring skryf, beskryf jy die verskillende dele daarvan.

Plus jy beskryf die emosies en insig wat dit wek! Dit alles vorm ‘n eenheid.

Dink tog aan jou leser!

  1. Die gesindheid teenoor die leser is baie, baie belangrik. Ons ingesteldheid moet wees dat ons die leser wil trakteer (“treat”) op ‘n kunstige skryfstuk. Ons skryf nie vir juffrou San, wat ons oorlaai met klaswerk nie. Ons skryf vir ‘n leser wat jou opstel nadertrek en uitsien daarna om dit te lees.
  2. Die skilder verf sy skildery met gereedskap soos verskillende groottes kwasse en verskillende kleure verf. Sy belangrikste gereedskap is die doek waarop hy verf en die grootte daarvan. Dan het hy ook ‘n klomp teoretiese kennis om hom te help. Soos die kennis van perspektief, diepte en verhoudings in groottes. So het die skrywer ook gereedskap en teorie om iets interessant te skep en sy leser te trakteer.
  3. Hier is jou gereedskap of toerusting weer. Jy moet seker maak en afmerk dat jy dit gebruik het:

Beplan vir die volgende elemente in elke paragraaf:

      Wenk: Skryf die paragraaf EERS op rof.

Daarna bring jy veranderinge uit die volgende lys aan:

  • Sinne MOET wissel in lengte: Party sinne is drie woorde lank of een woord, sewe woorde of tien woorde lank.
  • Sintuiglike waarneming: Beskryf wat jy sien, hoor, ruik, op jou vel voel en selfs proe. Die sigsintuig (sien) sal natuurlik oorheers in jou opstel, maar bring so nou en dan ander sintuie ook in.
  •  Voorbeeld:
  • Gehoorsintuig: Die stilte om my praat met my. Sê vir my nou mag ek rustig word.
  • Interessante werkwoorde gee die leser ‘n meer realistiese beeld.
  • Gebruik personifikasie, vergelyking en metafoor!
  • Voeg stylfigure in. Veral kontras werk baie goed! Jy kan byvoorbeeld twee opeenvolgende sinne of paragrawe laat kontrasteer
  • Beskrywing van emosies is baie belangrik: stomgeslaan/oorweldig/verbaas/gefassineerd/ ek voel klein/nederig/gering teenoor die skepping/see.
  • Beskrywing van insig, dit wat jy na ‘n beskrywing besef of nou weet gee baie kwaliteit aan jou opstel. Moenie die sin begin met: Ek besef/ek het geleer/die les vir my nie. Probeer: My wortels is hier/ek is deel van die natuur, dit is hier waar ek altyd wil wees/dit is ons planeet, ons is almal deel hievan, daarom moet ons mekaar help…
  • Betrek die leser deur retoriese vrae en ellips.

Voorbeeld: Kan ‘n mens so gelukkig wees?

                  Hoe beskryf ‘n mens die see?

                  Dalk is dit nie vir my bedoel nie…

Hier is die wenke vir struktuur weer:

Paragraaf 1: Tyd, plek , situasie/TPS (Ongeveer 3  – 4 sinne!!!)   Voorbeeld:   ‘n Koue wind pluk aan my hare. Vra hoekom ek in die aand hier in my tuin rondsukkel? My kat is weg. Weg. Hy is nie in die beddings nie. Nie onder die struike nie.  
Funksie? Jy plaas die leser onmiddelik in die situasie. Kry só dadelik die leser se aandag.
Onthou: Jy skommel die TPS soos jy wil.
In die volgende paragrawe moet jy leer om op ‘n georganiseerde manier te beskryf. Dit is baie, baie maklik!   Stel jou voor jy bekyk die toneel van onder na bo of van bo na onder. Dink jou in hoe jou o[SD1] ë die toneel stelselmatig volg.  
Paragraaf 2:Beskryf die dinge op grondvlak.
Paragraaf 3:Beskryf dinge op jou vlak.
Paragraaf 4:Beskryf dinge daar ver op horisontale vlak.
Paragraaf 5:Beskryf dinge in die lug.
Paragraaf 6:Beskryf die hoogtepunt (wat is die mooiste/beste/dit wat sal jy vir                                 altyd onthou) Hier doen jy jou bes. Beskryf dit ten minste in                     sewe sinne.
Paragraaf 7: Hier sê jy dat jy besig is om die toneel te verlaat.Wat jy veral saamneem is hoe die toneel jou laat voel en tot watter insig jy gekom het.Beskryf hoe hierdie ervaring jou laat voel.Beskryf daarna wat jy  nou besef/weet/sal onthou. (Ongeveer drie – vyf sinne)

 [SD1]

Skrywer:

Ek is 'n 63-jarige afgetrede Afrikaans Huistaal onderwyseres,wat op 60 afgetree het. Ek het 20 jaar vir seniors Afrikaans onderrig - 10 jaar in EA en 10 jaar in HT. Ek het twee begaafde kinders van my eie, daarom die passie vir die onderrig van begaafde kinders. Die belangrikste aspek rondom die begaafde kind is dat dit nie die ouer of onderwyser moet intimideer nie. As u dink dat u nie bevoeg is om so 'n kind te help nie, is u totaal verkeerd. Hulle het ons leiding nodig om te vlieg. Hulle vlieg net vinniger as ander! Geniet dit om te sien hoe vinnig die proses is. Ons sukkel genoeg met ander wat nie eers belangstel om te probeer nie!

5 gedagtes oor “Die beskrywende opstel – Deel IV

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.