Gepubliseer in Afrikaans Hulp

Die beskrywende opstel – Deel I

Hierdie skryfstuk vorm deel van ‘n paar skryfstukke oor die beskrywende opstel. Die opstel wat vir jou die meeste punte kan besorg. As jy dit reg doen. Ek wil by die sin begin. Omdat dit sin maak!

Onthou altyd die skrywer is in kommunikasie met die leser. Jy wil jou LESER bederf met ‘n wonderlike skryfstuk waarin hy die prentjies voor hom sien afspeel! Ons skryf nie vir die juffrou nie!

Ons wil in die beskrywende opstel dinge op so ‘n manier beskryf dat die leser beleef wat ons beleef!

In ‘n sin sien die leser die skrywer se talent. Hoe jy met jou sinne omgaan is dus belangrik!

Hier is vir jou ‘n kontrolelys:

1: Begin met ‘n interessanter woord as “ek” die uiters vervelige “die” of “’n”.

Voorbeelde: kleurwoorde: rooi, bloue, silwer, byvoeglike naamwoorde: vinnig, ongestoord, telwoorde of bywoorde. Ons noem dit inversie.

2. Interessante werkwoorde is ‘n moet. Daar is twee redes: jy kan so ‘n metafoor gebruik en tweedens maak jy handeling vir die leser lewendig! Lekker om te lees dus!

Voorbeelde: eet word verorber, verslind, al kouend. Rank word klim groen, stort word dans onder koel druppels.

Die werkwoord maak die leser se verbeelding wakker. Presies wat ons wil bereik!

3. Jy moet jou sintuie gebruik in skryfwerk. Sê wat jy ruik, sien, hoor, proe, op jou vel voel. Jou doel is dat die leser die toneel voor hom moet kan sien, hoor, ruik en voel afspeel.

Voorbeeld: Vet druppels raak sag aan my vel. Die geur van reën roep my buitentoe.

Sien jy dat ek net na die sintuie verwys en nie sê: ek hoor, ek sien, ek ruik nie?

4. Dan moet ons praat oor leestekens met trefkrag. My gunsteling is die aandagstreep. Dan is ek ook mal oor die dubbelpunt. Hy is so lekker interessant! Maar die ellips bekoor my. Soveel word aan die leser se verbeelding oorgelaat…Het ek genoem jy moet jou leestekens se funksies dus ken om dit toe te pas? Absoluut die moeite werd!

 5. Lang sinne is so oneffektief as die langste pad na Ouma toe. Los dit net. Dit verwoes jou skryfstyl. Skryf 8 – 10 woorde. Op die meeste.

6. Lekkerste van alles is om met sinslengtes te speel. Twee woorde, dan sewe dan een, dan vyf. Interessant. Baie interessant.

7. Jy kan dan nog beeldspraak en stylfigure ook ingooi, maar kry net eers hierdie basiese vyf beginsels reg. Asseblief tog!

  • Toepassing 1:

Probeer die sinne onder die tabel verander aan die hand van die tabel.

Voeg jou eie woorde ook in!

Merk af of jy die kriteria in die tabel gebruik het. Nee dis nie geforseerd nie. Dit is ‘n wenmetode wat, as jy dit inoefen, outomaties sal kom.

Die kode lyk so: B (begin), W (werkwoord), L (leesteken), Si (sintuie), SL (sinslengtes)

B,W,L,Si, SL

  1. Die groen blare gee aan die leeu skuiling teen die son.
  2. Die leeu eet sy vleis gulsig.
  3. Toe gaan lê die leeu op sy sy en slaap.
  • Toepassing 2:

Skryf jou kode bokant die volgende sinne.

Drie verfkolle: oranje, blou en geel lê en lok my .

Gevolgtrekking:


Die eerste werkwoord is vervelig.

Die “en” verleng die sin onnodiglik.

Kan jy sien dat die sin te lank is en dus sy trefkrag verloor? Eintlik sy dieper betekenis verloor.

‘n Meer betekenisvolle sin sal wees:

Drie verfkolle: oranje, blou en geel lok my. (Die verteller wil oordra dat kleure haar uitlok om iets daarmee te doen.)

Doen nou dieselfde ontleding met die volgende sinne en verander waar nodig:

Die dans ontplof – ‘n ritmiese skare gee hulle oor.

Die tromme galm in die dansende reëndruppels!

Ons word gevangenes van speserygeure en kleure.

  • Toepassing 3:

Na watter sintuie word verwys in die volgende sinne:

Helder  klink die ou klok oor die plein.

Braaigeure nooi jou na lawaaierige restaurante.

Koue vlokkies laat my ril, klou wit aan my hare.

Ek het genoem dat jy ander tegnieke ook kan inbring in jou sinne. Hier is ‘n paar:

Stylfigure, beeldspraak, alliterasie, rym en idiome. En baie belangrik: emotiewe taal/woorde. Moet ons dit alles nou in een sin inprop? Nee, dit is die sout wat smaak gee aan jou dis of dan kunswerk. Ons sprinkel dit hier en daar in ‘n paragraaf.

Die doel van die skryfstuk is om jou bewus te maak dat ‘n skrywer moeite doen met elke woord, elke sin om dit wat hy wil oordra aan sy leser so duidelik as moontlik, so kreatief as moontlik te doen. Ek het jou net bewus gemaak van wat jy alles kan doen om lekker kreatiewe sinne te skep.

Onthou dus jou kode (B,W,L,Si,SL) stylfigure, beeldspraak, alliterasie, rym, emotiewe taal en idiome as jy lekker kreatief wil verkeer!

Skrywer:

Ek is 'n afgetrede Afrikaans Huistaal onderwyseres. Ek het 20 jaar vir seniors Afrikaans onderrig - 10 jaar in EA en 10 jaar in HT. Ek het twee begaafde kinders van my eie, daarom die passie vir die onderrig van begaafde kinders. Die belangrikste aspek rondom die begaafde kind is dat dit nie die ouer of onderwyser moet intimideer nie. As u dink dat u nie bevoeg is om so 'n kind te help nie, is u totaal verkeerd. Hulle het ons leiding nodig om te vlieg. Hulle vlieg net vinniger as ander! Geniet dit om te sien hoe vinnig die proses is. Ons sukkel genoeg met ander wat nie eers belangstel om te probeer nie!

3 gedagtes oor “Die beskrywende opstel – Deel I

  1. Dis ‘n interessante manier om kinders te kry om meer kreatief te skryf. Ons gebruik ‘n skrywer en hy het sekere sin-tipes en die sin-tipes is gegradeer – vanaf die laagste jaargroep in die laerskool tot die oudste groep – basies van maklik na moeilik – en kry die kinders om hulle sinne op daardie manier te skryf. Dit help nogal om kreatiwiteit aan te wakker of slegs net om beter te skryf.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.